Monday, 18 November 2013

Die Waarheid Oor Noupoort

(Hierdie artikel het in die November 2010 uitgawe van die tydskrif Juig verskyn. Rehabilitasiesentrums loop gereeld deur onder "gerugte" wat deur verslaafdes,  wat nie bereid is om hulle verslawing te los, versprei word.)
 
Daar word dikwels met afkeer en intense kritiek in Christen- en sekulêre kringe van “Noupoort” gepraat en mense het hierdie rehabilitasiesentrum al dikwels van ontstellende insidente beskuldig. Dis baie hartseer dat die meeste van hierdie beskuldigings ongegrond is en eensydige kritiek lewer - dikwels selfs tweede- en derdehandse skindernuus.

SKOKKENDE PUBLISITEIT
‘n Paar jaar gelede het ek, in die lig van die skokkende artikels wat oor hierdie sentrum gepubliseer en op televisie vertoon is (‘n jongman is daar oorlede), besluit om self te gaan ondersoek instel. Ek was bekommerd dat Christene oor die algemeen deur dié sentrum in ‘n swak lig gestel word en ek was vasbeslote om agter die kap van die byl te kom.

Noupoort is òf ‘n baie swakbestuurde sentrum met kommerwekkende rehabilitasiepraktyke (soos die pers berig het), òf dit was maar net nog ‘n voorbeeld van ‘n aanval wat deur die sekulêre media in bevooroordeelde verslae en onregverdige beskuldi­gings op ‘n Christen-instelling geloods is op grond van die morele waardes wat daar gehuldig word. Dus het ek, as vryskut-joernalis wat toe vir TODAY Magazine gewerk het, met Noupoort geskakel en gevra om met die eienaar te praat. Ek is na Pastoor Sophos Nissiotis, ‘n Griekse pastoor, voorheen van Rhema Kerk, wat Noupoort-Christen-sorgsentrum 18 jaar gelede in die dorpie Noupoort - in die Karoo - saam met sy vrou Gladys, gestig het, verwys.

ONAANGEKONDIGDE BESOEK

Ons het vir meer as ‘n uur oor die foon ge­sels en ek het hom oor sekere van die moeilike dinge (soos “korrektiewe intervensie”, “handearbeid”, “werk met ‘pitbulls’”, ens.) waaraan studente onderwerp word, uitgedaag. Sophos het al my vrae beantwoord en sy weergawe van die feite gegee (die ‘teenoorgestelde‘ as wat in die sekulêre media verskyn het).

Hy het my ook uitgenooi om die sorgsentrum onaangekondig te besoek en self te sien wat op ‘n daaglikse basis daar gebeur. Verskeie weke daarna is ek, die voormalige Redakteur, Nico Bougas, en ‘n ka­meraman al die pad Noupoort toe. Met ons aankoms daar, was ek baie geskok om te sien dat daar absoluut geen heinings of mure om die sentrum was nie. Ek skat ek het uit die mediaberigte afgelei dat dit soos ‘n tronk sou lyk!

VERRASSENDE ERVARING

Nog iets wat my grootliks verras het, was dat ‘n groep jongmense op ‘n muur gesit en almal gerook het! Hulle het ons skaars gegroet, maar net aangegaan met gesels, in die tuin gewerk en mure geverf. Nadat ons eers by die gastehuis waar ons sou oorbly, ‘n draai gemaak het, het ons die pastoor geskakel en is vir koffie genooi.

Met ons aankoms by hom, moes ek ‘n privaatoproep in die tuin neem en was absoluut bevrees toe ek ewe skielik deur veghonde (‘pitbulls’) omring is. (Hulle was nie aggressief nie). Sophos het my verseker dat hulle baie mak was en my binnegenooi.

Ek is baie bekend vir my reguit, en soms konfronterende, styl. Ek het Sophos direkte vrae oor alle belangrike beskuldi­gings gevra. Dit was baie duidelik dat hy my vrae en direkte benadering waardeer het. Sy antwoorde was ernstig en opreg. Hy het verduidelik waarom hulle met ‘pitbulls’ en nie poedels nie, werk en het ook na die ongelukkige insident van die jongman wat by die rehabilitasiesentrum dood is en soveel media-reaksie ontlok het, verwys.

Verskeie ander dinge waaroor ek duidelikheid wou hê, het ter sprake gekom. Later het ek en my kollega op ons eie op die terrein rondgestap, met die pasiënte, die dorps­polisie en selfs die dorpsinwoners gesels. Ons was baie verras om te ontdek dat daar ‘n heeltemal anderkant as die sensasionele mediastories is.

‘KORREKTIEWE DIENS’

Daardie aand het ons gaan uiteet (in die dorp se enigste restaurant wat deur die pasiënte bestuur word) en ‘n onderhoud met die superintendent gevoer. Die volgende oggend het ons die NCC-kerk, wat deur Pastoor Sophos gelei is, bygewoon. Ons is ook later na die ‘korrektiewe huis’ (CI) – ‘n huis wat ongeveer 2 km van die hoofgebou is en waar die oortreders aangehou word. Ek het baie vrae gehad en het met al die pasiënte wat daar was, gepraat. Dit was vir hulle, uit die aard van die saak, baie moeilik omdat hulle in afsondering was en hulle dae is deur die strafste oefeninge gevul. Hulle het egter almal baie fiks en gesond gelyk.
Inwoners wat nie by die reëls en regulasies van die sorgsentrum hou nie, of wat aktiwiteite ontwrig, word vir ‘n rukkie na dié huis ge­stuur. Indien hulle rebelse fase voortduur, word hulle gevra om te gaan en hulle verbeur die koste. Ons het besluit om ‘n paar getuienisse in te sluit omdat dít nie in die sekulêre pers gepubliseer word nie.

GETUIENISSE VAN GEREHABILITEERDE DWELMSLAWE

Fabian Grenz was vir 26 maande ‘n kliënt van Noupoort en het die hele program deurloop. Hy is in 1998 toegelaat nadat hy vir 14 jaar lank aan alle dwelms verslaaf was. Sy verslawing, hoofsaaklik gebore uit groepsdruk en nuuskierigheid, het op 15-jarige ouderdom by crack/kokaïne begin. Fabian was 5 keer by ander sentrums voordat hy uiteindelik by Noupoort uitgekom het.

Die berader het ten einde laaste aanbeveel dat hy Noupoort toe moes gaan omdat hy regtig ‘hardcore’ was en nie by ander sentrums vordering getoon het nie. Hoewel Noupoort stowwerig en onvriendelik gelyk het, was die mense by dié afgeleë sentrum geensins onvriendelik nie. Na twee maande het hy probeer wegloop omdat hy nie ernstig was oor die herstelproses nie. Hy het teruggegaan en die program vir agt maande gevolg, vrywilliglik aangebly vir nog twee jaar en is nou reeds tien jaar ‘skoon’. By Noupoort het hy die Here vir die eerste keer ontmoet en ‘n verhouding met Hom ontwikkel.

Hy het daarvandaan teruggekeer na ondersteunende ouers, ‘n goeie werk, by ‘n kerk en selgroep ingeskakel en kyk vir geen oomblik terug nie. Fabian voel sterk daar­oor dat Noupoort by almal aanbeveel kan word. Dwelmslawe soek dikwels die maklike manier sonder die nodige dissipline en steunstelsels, maar dit werk eenvoudig nie.

Hy gaan gereeld vir kort besoeke terug om diegene wat nou rehabilitasie ondergaan, te bemoedig omdat dit ui­ters noodsaaklik is om die hele program te voltooi. Slegte gewoontes moet totaal gebreek word. Korter tye aan ander sentrums sonder God se hulp, is nie suksesvol nie. Hy is beskikbaar om met enig­iemand oor versla­wing of Noupoort te gesels. Skakel hom by 083 443 2448.

‘N TWEEDE KANS...
Marco Brocarrdo is in 1999 opge­neem nadat hy ongeveer 5 jaar lank in die greep van dwelms was en 3 maal selfmoord wou pleeg en reeds by 3 ander plekke, Houghton House, Nova Lodge en Sterkfontein, was vir hulp. Vir hom was die eerste indrukke van Noupoort skrikwekkend en die program uiters moeilik. Hy was nie ‘n Christen nie en die ‘Christen-bedrywig­hede’ het hom afgeskrik. Binne ‘n week het hy Jesus leer ken en sy lewe het verander. Hy het uiteindelik 3 jaar vrywillig gebly. Marco beklemtoon dat dwelmslawe nie van reëls en dissipline hou nie, nog minder van fisiese werk. By Noupoort het hy geleer wat verantwoordelikheid is en dat jy jou eie probleme moet hanteer. Hy het ook sy vrou daar ontmoet, besit nou sy eie besigheid en is reeds 11 jaar lank ‘skoon’.

Hoewel hy Noupoort sterk aanbeveel, waarsku hy dat enige eks-verslaafde se stryd eers begin as jy daar uitstap. As jy aan Jesus vashou, by ‘n kerk en selgroep inskakel om jou verhouding met Hom te versterk, word die stem van die versoeking al dowwer. Noupoort het, volgens Marco, sy negatiewe beeld gekry omdat die sekulêre pers in­gezoem het op die negatiewe inligting van verslaafdes wat nog nie ‘skoon’ was nie en dus nog nie ‘n objektiewe oordeel kon fel nie.

Hulle was nog in die rebellie-stadium en die pers het dit uitgebuit omdat sensa­sionele of slegte nuus verkoop. Vir ouers van verslaafdes het hy dié raad: “Tough people need tough discipline!” Vir meer inligting, kan hy geskakel word by 011 215 7140.

GETUIENIS VAN ‘n MA
Mevrou J.Z. se seun was vir ongeveer 7 jaar verslaaf aan heroïne, was eers vir rehabilitasie by Stepping Stones, maar het weer teruggeval. In 2001 is hy by Noupoort toegelaat nadat hulle by ‘n kennis daarvan gehoor het.

Haar seun het besef dat hy baie dring­end hulp nodig het en het, nadat hy een keer gedissiplineer is omdat hy hom nie aan die maatreëls wou onderwerp nie, met die program en dissipline saamgewerk. Hy het sy eie kamer gehad, hy kon sy skoolloopbaan voltooi en het wonderlike steun van die onderwysers daar gekry. Die dissipline is baie streng, maar die personeel baie ondersteunend en hulle kan net met lof van Noupoort praat. Sy en haar man het tydens hul seun se verblyf daar, drie keer by hom gaan kuier. Aanvanklik was dit vir hulle baie moeilik om hul seun in die omstandig­hede te sien; tog was die verbetering wat gaandeweg ingetree het, vir hulle as ouers, baie bemoedigend.

‘n LEWE VIR ALTYD VERANDER
Hy het die volle 52-week-program gevolg, teruggekom huis toe en moes weer stelselmatig sy ouers se vertroue wen. Hy het reeds verskeie naskoolse kursusse voltooi en is na 8 jaar nog steeds op die regte pad. Sy beveel Noupoort baie sterk aan omdat sy weet dat haar seun daar gehelp is. Enige ouer wat met haar wil kontak maak, kan ‘n e-pos aan toi@juig.co.za stuur en ons sal dit aan haar deurgee.

IETS OM OOR NA TE DINK
Nie elke ouer het ‘n gloei­ende getuienis oor Noupoort nie (Blaai om en lees die briewe op die volgende blad). Baie het die sentrum gekritiseer, ook in die openbaar - deur koe­rante en televisie. Ongelukkig is dit so, as iets eers gepubliseer is, kan dit nie maklik weer reggestel word nie. Ek kon Pastoor Sophos en Gladys se erns en opregte omgee vir die dwelmslawe aanvoel. Die Heilige Gees het my bewus gemaak van die feit dat hulle verkeerd in die media uitgebeeld word en dat hulle inderwaarheid honger is na Goddelike samesyn en steun van ander Christene – iets wat hulle ontneem is omdat Christene en nie-Christene hulle vermy.

BESLUIT SELF
Ek wil geen leser vír of téén Noupoort beïnvloed nie, maar ek moedig julle aan om hierdie artikel baie noukeurig te lees, hul webwerf te besoek, die sorgsentrum te skakel of self te gaan kyk wat alles daar aangaan. Indien enigeen vir jou iets slegs vertel, ondersoek die saak en vind eerstehands uit of dit die waarheid of slegs gerugte is. Dwelmverslawing is ‘n doods­vonnis en sonder rehabilitasie en gepaste intervensie, sal jy beslis jou geliefde ‘verloor’.

Noupoort is beslis nie ‘n rehabilitasiesentrum vir alle dwelmverslaafdes nie juis omdat dit so streng is en ‘n veeleisende program gevolg word (maar beslis niks er­ger as basiese Weermag-opleiding nie - iets waaraan die meeste jongmense vandag glad nie gewoond is nie en as straf en verbreking van hul ‘menseregte’ sal beskou).

As daar egter in ag geneem word dat hulle met die gehardste dwelmslawe in die land te doen kry en hul sukseskoers in ag geneem word, is Noupoort die effektiefste dwelmrehabilitasiesentrum in Suid-Afrika. Hulle fokus ook daarop om mense deur die Evangelie van Christus te bereik en sodoende hul lewens vir ewig te verander en hulle ‘n lewenslange waarborg op ‘n dwelmvrye lewe te bied. Dit is te verstane dat indien jou kind aan dwelms verslaaf is en jy moet toekyk hoe hulle deur die moeilike rehabilitasieproses wroeg, dit vir enige ouer baie ontstellend sal wees.

‘n Mens moet egter baie versigtig wees om nie ongegronde of sensasionele beskuldigings teen die sorgsentrum rond te gooi bloot op grond van eie persoonlike probleme wat jy in die gesig moet staar nie. Eweneens is die getuienis van dwelmslawe (wat bedrewe leuenaars en manipuleerders is) nie altyd betroubaar nie.

TER AFSLUITING
In die verlede het dwelmslawe al leuens oor Noupoort versprei bloot omdat hulle die sentrum wou verlaat om aan die roetine en dissipline waaraan hulle nie gewoond wil raak nie, wou ontkom. (Soos die geval was met die jongman links). Dit is waarom verantwoordelike verslaggewing in die pers uiters noodsaaklik is – maar nie altyd ge­skied nie.

Soos wat in verslae oor Noupoort in prominente koerante gesien kan word, het Noupoort telkens in die sekulêre pers aan die kortste ent getrek – en tog weier die media om hulle foute te erken en skryf slegs ‘n baie klein verskoninkie wat iewers in die publikasie versteek word. Dit is uiters noodsaaklik dat ouers en lesers die waarheid vir hulself vasstel deur self ondersoek in te stel. Moenie altyd glo wat die sekulêre pers verkondig nie!

No comments:

Post a Comment