Monday 25 November 2013

Wonderlike nuus!!
Saterdagoggend, die 23ste November 2013, was vir al die ondersteuners van Die Rots Paarl 'n heuglike dag!  Nie net alleen het die Bokke die wedstryd teen die Hane gewen nie, maar Die Rots het 'n plek gekry om nes te skop en vanwaar die rehab ook begin kan word!!  Jippieeeeeee!!!! Mense, nou gaan die wiele begin rol en die vonke begin spat soos wat daar gewoel en gewerskaf gaan word om die verslawing van dagga en dwelms te beveg!! Amanda het hierdie "droom" van haar nie net as 'n droom beskou nie, maar haar "droom" nagejaag met alles wat sy in haar het. Julle sal nooit weet hoeveel kilometers het sy agter eiendom aangery net om weer teleurgesteld om te draai nie! Ek dink daardie rooi "Ferrari" van haar se bande is al glad gery agter moontlike huise aan en op soek na huise. Maar sy het nie moed opgegee nie en haar soektog en deursettingsvermoë (en vertroue in God) het vrugte afgewerp. Dit het net weereens vir my, nee vir ons almal, gewys dat God dinge op die regte tyd laat gebeur en dat Sy tyd nie ons tyd is nie. Ons bid so baie kere vir iets of iemand en dan gebeur dit wat ons vra nie. Sulke tyd dink ons vinnig God hoor ons nie of Hy is nie daar nie! Maar dis sulke tyd wat dit waarvoor jy bid, nie gebeur nie omdat Hy van beter weet en weet dit is nie die regte tyd nie. Dankie hemelse Vader vir hierdie huis. Dankie vir Amanda wat onverpoos glo in Die Rots en dankie vir almal wat dieselfde visie het om dwelm en dagga verslawing in Drakenstein te beveg. Of dit nou is om aktief betrokke te raak by die bedrywighede, en of dit nou is om Die Rots blad te ondersteun, en of dit nou is om Die Rots te ondersteun en of dit iets so eenvoudig soos 'n gebed vir Die Rots en Amanda is. Dankie vir alles! Baie dankie Amanda!

No comments:

Post a Comment