Tuesday, 29 October 2013

Tentakels van Tik! (Uittreksel uit die boek "Oor mense & Hoop" van Rilette Meyer wat onderhoude gevoer het met mense wat baie ernstig gestruikel het.)
In 'n plek wat die atmosfeer van 'n outydse kafee het en waar jy melkskommel en wafels bestel, ontmoet ek Adolf. 'n Sestienjarige seun met die oë van 'n ou man. Saam met ons, maar tjoepstil, is sy sielkundige - Adolf is minderjarig. Dit is 'n verhaal oor die verwoesting van dwelms. Maar in hierdie geval is dit nie Adolf wat 'n stryd teen die euwel voer nie, dis sy ma. Uiters steurend is die feit dat sy deel uitmaak van 'n splinternuwe statistiek: 'n nuwe vlaag van Tik-verslawing wat onder wit Afrikaanse, middelklasvroue kop uitsteek. Veral in die Kaap, aldus Suid-Afrika se Tik-hoofstad.
Adolf en sy ma:
"My ma is in haar vroeë veertigs," begin Adolf en dis duidelik dat hy toegelaat moet word om sy storie by 'n plek te gaan haal. Asof hy my gedagtes lees, verduidelik hy: "Ek noem dit juis, want die kenners met wie ek gepraat het, het dit uitgewys as 'n "gevaarlike" ouderdom vir vroue." Die beduidenis van 'n glimlag flits oor sy gesig; 'n aanduiding dat daar êrens, diep binne, 'n humorsin skuil. "Dis juis tydens dié fase wat die grootste aantal vroue blykbaar die koers van hul lewe bevraagteken," hervat hy. "Hulle voel ook die verloop van die tyd aan, hulle glo dat hul skoonheid taan, en so aan." Hy waai die laaste woorde verleë weg. "Jy is 'n vrou, so jy weet al die dinge." Effe skaam dat hy hom op die terrein begewe het. Adolf se ma is tans in 'n rehabilitasiesentrum, vir die derde keer hierdie jaar. "Ek is al moeg gewonder of dinge ooit weer gaan regkom, maar hierdie keer moet dit werk want sy't probeer selfmoord pleeg en as ek haar nie betyds gekry het nie, was ons nou langs haar graf." Die woorde tuimel oor sy lippe, dit struikel nie in die eerlikheid daarvan nie. Daar is nie meer plek vir skanse nie. Dit is wat dit is. Waar het die afdraande pad begin? "My ma is 'n mooi vrou. Dis eers nou, met al die drama, wat ek met ander insigte na ons omgewing en leefstyl kyk. Tot 'n jaar gelede het ek geglo dis great, dis hoe dit moet wees." Die "leefstyl" waarna Adolf met opsigtelike veragting verwys, is die hoër as gemiddelde middelklasleefstyl. "Hier worry almal oor wat die bure gaan dink. Jy ry die regte kar, jou huis weerspieël 'n sekere image en die kinders dra etikette waarvan die prys net so belangrik as die styl is. Alles oppervlakkige twak." As die oudste van vier kinders was Adolf bewus daarvan dat sy ma na sy jongste sussie, 'n effense laatlam, se geboorte gesukkel het om haar figuur terug te kry. "Al kon mens nooit fout vind met haar voorkoms nie, was sy konstant ongelukkig. Sy't elke denkbare dieet probeer want sy wou altyd maerder wees as wat sy was." Hy glo die rede vir haar swak selfbeeld is nie net in haarself gesetel nie. "My pa beklee 'n belangrike pos in 'n reuse onderneming. Hy geniet aansien en dit vereis 'n huishouding en 'n vrou wat daarby pas. 'n Trophy wife. Dis vir hom belangrik en hy is 'n perfeksionis. My ma se vriendinne is ook so ingestel." Adolf dui aan dat ons nou by die kruis kom wat sy ma se skouers geknak het. "Een aand was hulle op pad na 'n partytjie. My ma was die hele dag senuweeagtig en het vir my gesê sy weet nie wat sy gaan dra nie, want niks pas haar behoorlik nie." Toe sy uiteindelik haar verskyning maak, het Adolf se pa nie komplimente uitgedeel nie - inteendeel. "Ek kon als hoor uit die TV-kamer. Hy't nogal gesnou dat haar beste vriendin haarself nie so laat gaan het nie. Toe my ma ons kom groet, was daar trane in haar oë. Ek't vir haar gesê sy lyk mooi, maar dit hou nie water as jou kind dit vir jou sê nie - sy wou hê haar man moet so dink." Kort na die episode was daar 'n merkbare verandering in Adolf se ma. "Dit was asof sy uit haar dop gekruip het. Sy't weer begin lag en grappies maak. Ons het opgemerk dat sy gewig verloor en skielik was daar weer harmonie in die huis. Sy't stunning gelyk en my pa het haar toegegooi met komplimente en geskenke." Die vrede sou egter van korte duur wees. "As ek nou terugkyk, was die eerste tekens erge senuweeagtigheid. Ons het haar nogal geterg daaroor dat sy so jumpy is. Mettertyd het my ma ophou bad en na haarself kyk. Sy't toenemend vergeet om my sussies by die skool op te laai. Haar gedrag was vreemd." Adolf was die een wat die kloutjie by die oor gebring het. "Een van my vriende op skool was aan Tik verslaaf, en dit het eendag, heel skielik, net als gekliek. " Omdat dit so ongehoord is, was hy vas oortuig dat hy verkeerd is. "Ek kon dit egter nie ignoreer nie, al wou ek dit nie glo nie, maar ek kon aan geen ander rede dink om die drastiese gedragsverandering te verklaar nie." Na 'n hopeloos onsuksesvolle gesprek met sy pa, het Adolf sy ma gekonfronteer. "Sy't aanvanklik als ontken, maar uiteindelik in trane uitgebars en erken dat sy Tik gebruik. Al was dit ontsettend erg om dit te hoor was ek tot 'n mate verlig, want die kat was uit die sak." Omdat sy pa botweg geweier het om hom te glo, het Adolf op eie stoom na hul huisdokter toe gegaan. "Dit was nie maklik om hom te oortuig om na ons huis toe te kom nie, maar daar was geen manier wat ek my ma daar kon kry nie." Hul huisdokter het Adolf se pa onomwonde ingelig dat dit ernstig is, en dat sy vrou onmiddellik vir rehabilitasie moes gaan. Vol hoop het Adolf op sy ma se tuiskoms gewag, vas oortuig dat alles weer na normaal sou terugkeer en dat die nagmerrie verby is. "Toe nie. Die eerste week of wat was sy uitgeput, maar sy was my ma. En toe slaan die monster weer toe." Dié keer was die verval vinniger en erger - maar sy ma was ook meer geslepe in haar pogings om dit te verdoesel. "Ek erken daar was by my, en dus ons gesin, 'n amper halsstarrige weiering om te erken dat die probleem terug was." Hy sug en dis 'n sug wat dui op te veel verantwoordelikheid op die jong skouers. "En dan tref die waarheid jou. Dié keer harder, meer sekuur. Jy steier onder die kennis en jy wankel in die wete van wat voorlê. "Om haar deur die huis te sien dwaal," onthou jy onbewaak, "was soos om haar spook te sien." Die patroon is herhaa. Dokter, rehabilitasie, tuiskoms, hoop. Vals hoop. "Daar is sonder twyfel inherent iets fout met die basiese rehabprogram. Ek hoor van te veel mense wat net weer terugval. Ek gaan dit my lewenstaak maak om daaraan te werk." So jonk, so vol drif en met ywer. En nou? "Dis nie net sy wat veranderings moet maak nie, ons moet almal. Ook my pa. As hy kan, want tans glo hy nie hy's deel van die probleem nie." Adolf is kwaad vir die lewe, kwaad vir sy pa, kwaad vir 'n wêreld wat onmoontlik verskuilde wippe stel waarin weerloses trap. En Adolf is kwaad vir God. "Die dominee sê nou die dag vir my ek beter my houding verander anders gaan ek in die hel beland. Wie dink hy is hy? Dit waardeur ons nou gaan, hier, vandag, dit is die hel. Hy moenie met sy skynheilige dwepery vir my kom staan en preek nie. Ek is die een wat my ma op haar knieë sien, hoor hoe sy God se Naam roep en om hulp en verlossing smeek. Hy kom hier aan met sy streng gesit en swaai sy wysvinger onder haar neus rond oor sondeval - maar nie te lank terug nie het hy hom elke naweek dik gevreet aan ons tafel en ons duur wyn uitgdrink. Toe was als hunky-flippen-fory. Toe was ons voorbeelde van ware Christene in die gemeenskap? Asseblief." Anders as baie van sy portuurgroep, dra Adolf nie 'n kiekie van 'n meisie in sy beursie nie. In die beursieflap is 'n foto van sy ma soos sy nou lyk. Skokkend sleg. Toutjieshare wat niks van die eertydse glansende blondheid verklap nie, hol wange, purper kringe reg rondom haar lewelose oë wat eens op 'n tyd helder blou was, gebarste lippe met onooglike sere in die mondhoeke. Hy kyk lank na die foto voor hy dit wegbêre. Hoekom dié foto? Hy sug en vee oor sy hare voor hy antwoord. "Want ek wil nie vergeet nie. En as een van my vriende nog dink dat hulle met drugs wil eksperimenteer, dan hoef ek niks te sê nie - ek hoef net te wys." Hy kyk sekuur in my oë. "Dis helse effektief. Glo my." Ns. Tik, oftewel metamfetamien, is alombekend vir die destruktiewe effek wat dit op die gebruiker het. Tik laat jou gewig verloor want dit onderdruk jou aptyt. Aanvanklik gee dit jou hope energie en selfvertroue. In die beginfase ervaar jy ekstatiese geluk en dit voel asof jy berge kan versit. Mettertyd begin die gebruiker egter hallusineer. Dit tas die brein, sentrale senustelsel en uiteindelik die volledige liggaamsfunksie aan. Die gebruiker ervaar dan 'n ontsettende en oorweldigende swartgalligheid. Hulle hunker n adie verruklike gevoel wat vantevore daar was. Dus wend hulle hul weer en weer en weer tot Tik in die hoop dat die euforie sal terugkeer. 'n Paar weke na ons onderhoud het Adolf laat weet dat sy ma na nog 'n selfmoordpoging gesterf het. "Dis 'n tragedie wat ons lewe vir altyd en ek weet nie of die seer ooit sal weggaan nie. Ek weet nie wat ons sonder haar gaan doen nie. Sy was ons lig na liefde. Ek weet nie of daar vrede of geluk is waar sy nou is nie, maar ek hoop so. Sy verdien dit. Ek wil nou, meer as ooit, die storie gepubliseer hê. Waarsku mense teen Tik. Asseblief. Vir almal wat hierdie stryd stry: Al het ek geen raad nie, moenie ophou probeer nie. Baklei daarteen."
Adolf se pa:
Dit was nie  maklik om 'n afspraak met Adolf senior te kry nie. Uiteindelik het die sielkundige hom oorreed en ons ontmoet in die spreekkamers. "Ek is baie ongelukkig daaroor dat Adolf met jou gepraat het," val hy uit die staanspoor aan. "Dit is ons privaat sake en dit het niks met enigiemand anders te doen nie." Hy bly nukkerig toe ek hom daarop wys dat Adolf anoniem wou bly (om sy ma en sussies te beskerm) maar dat hy dringend bewuswording vir 'n groeiende probleem wou kweek. "Ek weet hy glo dis beter om die sluier te lig, maar my generasie hanteer probleme op 'n ander manier. Ons los ons probleme agter geslote deure op en maak nie 'n spektable van onsself nie." Met 'n pandemie wat reeds soveel mense se lewe en gesinne verwoes, is dit mos juis die eerbare ding om te doen deur dit aan die groot klok te hang? "Ek het nog altyd 'n kleintjie dood aan swakheid. 'n Mens se karakter word gebou op hoe jy moeilike situasies hanteer, en verslawing dui op 'n inherente swakheid," kap hy terug terwyl hy 'n sigaret aansteek. "Moet net asseblief nie die ou redenasie ophaal dat rook ook 'n verslawing is nie, want dis anders," reageer hy op my ironiese gesigsuitdrukking. Is hy positief dat hulle as gesin hierdie veldslag gaan oorleef? "Natuurlik," antwoord hy bykans te vinnig. "Ons is wenners en deur saam te staan en saam te werk as 'n span kan ons enigiets die hoof bied." Is hy dus trots op die baie volwasse wyse waarop sy seun hierdie moeilike situasie hanteer? Hy frons vir 'n oomlik, asof die omvang van die stelling hom onkant betrap. "Ek het nog nie so daaraan gedink nie. Maar ek sal toegee dat Adolf uiteindelik 'n man begin word."

Monday, 28 October 2013

Die soektog na 'n geskikte perseel waar Die Rots kan gaan nesskop!
En so is Amanda nog steeds op soek na 'n geskikte perseel waar Die Rots kan "nesskop". En hier het ons julle almal se oë en ore nodig. As julle van 'n huis (verkieslik met 'n groterige erf) weet, laat weet asb vir Amanda deur vir haar te bel, te sms of te epos. Soos julle weet, gaan die mense in nood wat vir rehabilitasie by Die Rots kom aanklop, onder toesig in die huis bly. En terwyl hulle inwoon vir hulle behandeling, sal hulle betrokke wees by die vervaardiging van sekere items (soos deur Amanda geidentifiseer) om fondse te help genereer vir die daaglikse onkostes van Die Rots om die rehabilitasie diens te lewer. Hoe meer fondse gegenereer word, hoe meer bekostigbaar sal die rehabilitasie vir almal in die gemeenskap wees. Die huis kan selfs op 'n plaas buite die dorp wees. Amanda wil dit nie verniet hê nie. Sy gaan huur daarvoor betaal. Die geskikte plek moet darem vir langtermyn beskikbaar wees. Amanda het al verskeie plekke geidentifiseer en in gesprekvoering getree, maar tot op hede het haar soektog nog niks opgelewer nie. Elke Vrydagmiddag net na werk, klim Amanda in haar rooi motortjie en dan vaar sy die strate van die Paarl in op soek na 'n plek waar Die Rots kan gaan huis opsit.
Op en af ry sy tot wie weet watter tyd toe om te kyk of sy nie 'n plek raakloop nie. Maar van moed opgee, is daar nie sprake nie.
Help asb soek! Sit Amanda se soektog op jou gebedslysie en vra vir ons hemelse Vader om 'n plek vir haar uit te wys. Hoe meer van ons saam bid oor die saak, hoe sterker gaan ons wees. Ek sal julle op hoogte hou van Amanda se "soektog".

Thursday, 24 October 2013

"Hospice Charity Spring Walk 2013"

Waar? Paarl Krieketklub, Markstraat, Paarl
Wanneer? 26 Oktober 2013
Hoe laat? Vanaf 5h00 tot 13h00

Skud die stof van jou stapskoene af en gaan neem deel aan die jaarlikse Hospice lente stap. Daar is afstande van 3 km, 8 km, 10 km en 'n 22 km bergstap.

Wegspringtye:
6h00 - 22km Bergstap
08h00 - 10km (Amptelike wedloop van Boland Atletiek)
08h15 - 8 km
08h30 3 km

Plaaslike kunstenaars gaan vir die vermaak sorg. Baie  kosstalletjies sal vir eet en drinke sorg.

Tuesday, 22 October 2013

Wat het ek as ouer verkeerd gedoen?

Daar kom 'n tyd wanneer alle ouers of geliefdes van 'n dwelmverslaafde voel dat hulle dalk iets verkeerd gedoen het wat die dwelmverslawing kon veroorsaak en of aanhelp. Ek het die volgende artikel op die internetblad van die organisasie "Tough Love" gevind wat ouers of geliefdes daarmee kan help om te besef dat hulle nie die oorsaak van die dwelmverslawing is nie:

"The three C's:
You did not Cause it!
You cannot Control it!
You cannot Cure it!"

"'n Deel van die proses om tot terme te kom met die verslawing van jou kind of iemand wat jy liefhet, is 'n periode waar jy jouself blameer en gedagtes waar jy glo dat jy iets kon doen om dit te voorkom of te keer.
1. You did not cause it:
Ek onthou dat ek deur 'n tydperk van selfondersoek gegaan het oor wat ek as ouer gedoen of nie gedoen het nie wat veroorsaak het dat my kind aan dwelms verslaaf raak. Tydens 'n ondersteuningsgroep vergadering het ek gehoor hoe 'n gerehabiliteerde verslaafde dit deel met almal dat dit nie saak maak wat sy ouers gedoen of nie gedoen het nie, hy nog steeds sou dwelms gebruik. Op daardie oomblik het ek begin besef dat ek slegs 'n toeskouer by hierdie dwelm chaos was. Dit was my kind se keuse om dwelms te begin gebruik. Deur van sosiale druk en aanvaarding te leer het ek begin verstaan wat ons jongmense in die gesig staar. My kind het dwelms begin gebruik saam met haar vriend wie op daardie stadium 'n groot invloed op haar gehad het.  Ek kan egter nie die skuld alleenlik op hom pak nie, want my kind kon NEE gesê het.
2. You cannot control it:
Ek is dikwels gevra wat ek sou gedoen het as ek geleer het van haar dwelmmisbruik voor die krisis wat haar gedwing het om na haar verslawing te kyk. Die werklikheid is dat daar niks is wat ek effektief kon gedoen het om haar gedrag te stop, anders as om by 'n ondersteuningsgroep aan te sluit en begin leer oor die waardevolle gereedskap wat jou sal bemagtig teen hierdie onhoudbare situasie. Een van die "gloeilamp" oomblikke wat ek ervaar het, was toe my dogter in die vroeë ure van die oggend 'n aand uit: - 3 of 04:00 by die huis gekom het. Ek het hulpeloos gevoel, en het baie nagte nie slaap nie totdat ek gehoor het dat sy inkom. Ek het by die ondersteuningsgroep geleer dat ek geregtig was om strenger reëls vir haar op te stel terwyl sy in my huis bly soos byvoorbeeld om 'n "aandklokreël" in te stel  sodat ek 'n ordentlike nagrus kon kry - maak nie saak of sy ouer as 21 is nie. Ek het begin om stelselmatig beheer van my huis en omgewing te neem. Dit het baie goed gevoel! Nadat sy die rehab verlaat het, ek het agtergekom dat ek, nadat sy die rehab verlaat het, haar herstel probeer  beheer het.  Solank as wat sy haar NA groepe bygewoon het, haar terapeut gesien het en die Twaalf stap gedoen het, was ek veilig. Ek het uiteindelik begin besef dat dit net my eie "herstel" was wat ek kon beheer.

3. You cannot cure it:
Ek kan nie met oortuiging sê dat my dogter nooit weer dwelms sal gebruik nie. Die pad van herstel is die een wat sy kies om elke dag te loop. Ja, my vrese vlam op as ek sien dat sy gespanne of depressief raak, en wonder tot wat dit kan lei. Maar ek het so gewerk aan my "eie" herstel sodat ek dit kon regkry om 'n mate van "onttrekking" in haar keuses te handhaaf. Ek weet dat ek myself meer bemagtig het as wat ek voorheen was en ek weet dat met my groep se ondersteuning ek in staat sou wees om enige krisis beter as voorheen te trotseer.
Om hierdie reis te stap saam met iemand vir wie jy lief is wat aan dwelms verslaaf is, is nie maklik nie. Dit verg moed, nederigheid, wysheid en krag. Dit het oomblikke van kwesbaarheid en pyn, maar bo alles  dit baie vir die blote oorlewing gees wat ons as ouers het. Niemand kan ons sê ons is quiters nie!
My vrede en hoop vir haar toekoms lê in die uittreksel uit die "Narcotics Anonymous" handleiding:

"Ons kan nie die aard van die verslaafde of verslawing verander nie. Ons kan help om die ou leuen "sodra 'n verslaafde, altyd 'n verslaafde", te verander deur te strewe daarna om herstel meer beskikbaar te maak nie. Here, help ons om hierdie verskil te onthou. "


 
 






 
 


 

Friday, 18 October 2013

Dit is jou eie keuse hoe jy krisisse gaan hanteer:


DIT IS JOU EIE KEUSE HOE JY KRISISSE GAAN HANTEER:
Daar word die verhaal vertel van die donkie wat in ’n kuilvoergat geval het. Na baie pogings van die boer en sy handlangers het hy tog besluit dat dit ’n hopelose saak is om die donkie uit die kuilvoergat te kry. Omdat die suurstof so min was onder in die kuilvoergat, en die donkie stilgeraak het, het die boer gedink die donkie is reeds dood.  So gee hy sy handlangers opdrag om die donkie toe te gooi. Die donkie het egter nog geleef. Soos die manne die grond in die gat gegooi het, het die donkie begin opstaan en elke keer die grond van sy rug afgeskud en begin beweeg. Hy het elke hoop grond afgeskud en in die rondte begin loop. So het hy al hoër in die gat gestaan, totdat hy self kon uitklim!

Daar gaan altyd krississe en uitdagings in jou lewe wees. Hoe jy dit gaan hanteer hang van jou af. Jy het altyd ʼn keuse hoe jy te midde van ʼn krisis reageer. ʼn Positiewe ingesteldheid beteken dat jy al jou krisisse en uitdagings ook positief moet hanteer. Met elke krisis en uitdaging in ons lewe, is ons soos ʼn donkie in die kuilvoergat met min suurstof. Jy het ’n keuse om alles wat na jou kant toe gegooi word as baie moeilik of gewigtig te ervaar en te gaan lê en sodoende toelaat dat alles wat op jou gegooi word jou versmoor. Of jy kan kies dat dit wat op jou gegooi word deur die samelewing en lewe – af te skud en dit te gebruik om uit te styg en te oorleef! ! Die keuse hoe jy die krisisse gaan hanteer bly joune!

In Kolossense 3:16 leer die Here ons om in alle omstandighede die Here op te soek en Hom te loof met lofgesange. As jy in jou lewe altyd die lof van die Here soek in jou krisisse sal die Here jou die energie gee om jou uitdagings positief te hanteer.

Gebed: Here help my om elke krisis positief te hanteer en op U te vertrou. Help my om nooit moed op te gee nie, al is dit hoe swaar. Amen

Voorstelle oor hoe om jou kind teen die gevare van dwelms te waarsku:

Net soos jy jou kinders laat inent teen siektes soos masels, kan jy hulle help "immuniseer" teen die gebruik van dwelms deur hulle van die feite te voorsien voordat hulle hul in 'n riskante situasie bevind. Wanneer kinders nie gemaklik voel om met hulle ouers oor enige iets te gesels nie, is hulle geneig om antwoorde op ander plekke te soek al is hulle bronne nie betroubaar nie. Kinders wat nie behoorlik ingelig is nie, loop 'n groter gevaar vir die beoefening van onveilige gedrag en die eksperimentering met dwelms. Ouers, wat ingelig is oor die uitwerking van die gebruik van dwelms, kan verhoed dat wanopvattings wat kinders kan hê, bestaan.   Maak praat oor dwelms 'n deel van jou algemene gesondheid-en veiligheidsgesprekke met jou kind.

Voorskools tot 7-jarige ouderdom:
Voordat jy op jou senuwees raak om met jou kind oor dwelmgebruik te praat, raak rustig en kalm. Jy het waarskynlik reeds die grondslag gelê vir 'n bespreking. Byvoorbeeld, wanneer jy koors medikasie of antibiotika aan jou kind gee, kan jy die geleentheid gebruik om die voordele met die kind bespreek en ook die geskikte en verantwoordelike gebruik aan die kind verduidelik. Dit is ook 'n tyd wanneer jou kind baie vatbaar is vir jou gedrag en leiding. Begin nou om gebruik te maak van "leerbare oomblikke". As jy 'n karakter op 'n advertensiebord of op die TV met 'n sigaret sien, praat oor die rook, nikotien verslawing en die skade wat dit aan 'n persoon se liggaam doen. Dit kan lei tot 'n bespreking oor ander dwelms en hoe hulle moontlik skade kan veroorsaak.Hou die toon van hierdie besprekings kalm en gebruik terme wat jou kind kan verstaan. Wees spesifiek oor die effekte van die middels: hoe hulle 'n mens laat voel, die gevaar van 'n oordosis, en die ander langtermyn skade wat hulle kan veroorsaak. Om vir jou kind hierdie feite te gee, sal jy 'n bietjie navorsingswerk moet doen.
Agt- tot 12 jarige ouderdom:
As jou kinders ouer word, kan jy begin om gesprekke met hulle te voer deur hulle te vra wat hulle dink oor dwelms. Deur die vrae nieveroordelend te vra, is jy meer geneig om 'n eerlike antwoord te kry. Kinders van hierdie ouderdomsgroep is gewoonlik nog steeds bereid om openlik te praat met hul ouers oor sensitiewe onderwerpe. Die skep van 'n dialoog help nou om die deur oop te maak as kinders ouer word en minder geneig is om hulle gedagtes en gevoelens te deel. Selfs as jou vraag nie onmiddellik lei tot 'n bespreking nie, sal jy jou kinders laat dink oor die kwessie. As jy jou kinders  wys dat jy bereid is om die onderwerp te bespreek en hoor wat hulle te sê het, sal hulle makliker na jou toe kom vir hulp in die toekoms. Nuus, soos die gebruik van steroïde in professionele sportsoorte, kan wegspringplekke vir gemaklik gesprekke oor die huidige gebeure. Gebruik hierdie besprekings om jou kinders inligting te gee oor die gevare van dwelms.
13- tot 17 jarige ouderdom:
Kinders van hierdie ouderdom ken heel waarskynlik ander kinders wat alkohol of dwelms gebruik en vriende wat kan ry. Baie van hulle is nog steeds bereid om hul gedagtes en bekommernisse daaroor met die ouers te bespreek. Gebruik hierdie gesprekke nie net om jou kind se gedagtes en gevoelens te verstaan ​​nie, maar ook om te praat oor die gevare van bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms. Praat oor die wetlike aspekte soos tronkstraf en boetes en die moontlikheid dat hulle of iemand anders dalk dood verongeluk of ernstig beseer word. Oorweeg dit om 'n skriftelike of mondelinge kontrak oor die reëls op te stel oor uitgaan en die gebruik van die motor. Jy kan jou kinders belowe om hulle te gaan haal, enige tyd geen vrae gevra, as hulle jou bel as die persoon wat verantwoordelik is vir die bestuur van die motor, gedrink het of dwelms gebruik het. Die kontrak kan ook ander situasies dek. Byvoorbeeld, as jy uitvind dat iemand gedrink of dwelms gebruik het in jou motor terwyl jou seun of dogter agter die stuurwiel was, alle voorregte vir 6 maande opgeskort gaan word. Deur hierdie tipe van besprekings van al  hierdie dinge met jou kinders van die begin af, skakel jy verrassings uit en ​​maak jy duidelik wat van hulle verwag word.
Die lê van 'n goeie grondslag:
Geen ouer, kind of familie is immuun teen die gevolge van dwelms. Niemand is te goed om aan dwelms verslaaf te raak. Sommige van die beste kinders kan in die moeilikheid beland, selfs wanneer hulle 'n poging aangewend het om dit te vermy en selfs wanneer hulle behoorlike leiding van hul ouers gekry het. Tog kan sekere groepe kinders meer geneig wees om dwelms te gebruik as die ander. Kinders wat vriende is met ander wat dwelms gebruik, is geneig om self ook te probeer om dwelms te gebruik. Diegene wat voel dat hulle sosiaal geïsoleer is vir watter rede ookal kan draai na dwelms. Daarom is dit belangrik om jou kind se vriende en hul ouers te leer ken. Dit is belangrik om betrokke te wees in jou kinders se lewens. As jou kind se skool 'n anti-dwelm-program aanbied, raak betrokke. Jy kan iets leer! Gee aandag aan hoe jou kinders voel en laat hulle weet dat jy beskikbaar is en bereid is om te luister in 'n onkritiese manier. Herken wanneer jou kinders deur moeilike tye gaan, sodat jy die nodige ondersteuning wat hulle nodig het, kan bied of poog om bykomende sorg te kry as dit nodig is. Rolspeel kan jou kind help om strategieë te ontwikkel om te gebruik indien hulle dwelms aangebied word. Dink aan allerhande  moontlike scenario's wat hulle mag teëkom. Help hulle frases bou en antwoorde gereed hê om nee te sê sodat hulle voorbereid is hoe om te reageer voordat hulle self in daardie situasie beland. Wanneer kinder in hul eie huise "gesensor" word, sal die kinders elders ondersteuning en antwoorde op hul mees belangrike vrae gaan vind. Maak tyd om te praat en om gesprekke met jou kinders te voer, 'n gereelde deel van jou dag. Vind tyd om dinge as gesin saam te doen sodat almal met mekaar "verbind" bly en die kommunikasiekanale oop te hou.

Die belangrikste van alles:
Bly op jou knieë voor God en moet nooit ophou bid nie, want maak nie saak hoe goed jy jou kind groot gemaak of voorberei het nie, jou kind kan nog steeds betrokke raak by dwelmgebruik!


 

Wednesday, 16 October 2013

Hoe help ek 'n dwelmafhanklike en sy/haar geaffekteerdes?


VOORKOMING IS BETER AS GENESING
Dwelmverslawing is soos kanker – Genesing daarvan kan altyd as ‘n wonderwerk beskou word. Dit is baie beter om afhanklikheid te voorkom aangesien die sielkundige genesing van afhanklikheid van talle faktore afhang wat die kanse op genesing belemmer.
‘n Persoon is slegs in staat om te kan besluit of hy/sy met dwelms gaan eksperimenteer as hy/sy bewus is van die implikasies (gevolge) van die besluit. Daarom is dit van die grootste belang dat die ondersteuningsgroep sterk die klem op voorkoming sal laat val.

Dit sluit die volgende in:
1. Die oordra van feitlike inligting oor dwelms. Kennis is mag!
2. Die verlening van hulp aan persone wat dit moeilik vind om met ander te kommunikeer. Skakel hulle by ondersteuningsgroepe in en verskaf ‘n aangename atmosfeer om kommunikasievaardighede te verbeter.
3. Die uitbou van besluitnemingsvaardighede kan binne die groepsverband ontwikkel word.
4. Werk saam aan ‘n stewige en gesonde waardestelsel.
5. Help mekaar binne die groep om ‘n gesonde selfbeeld te ontwikkel.
6. Ondersteun mekaar in die opbou van ‘n sterk innerlike selfdissipline.

INGRYPING IN DIE LEWE VAN ‘N DWELMAFHANKLIKE
Een van die belangrikste feite wat die persoon wat die dwelmafhanklike in homself van moet vergewis is dat die dwelmafhanklike gewoonlik die laaste persoon is wat sy probleem wil erken.
Daarom is dit noodsaaklik dat die helper die dwelmafhanklike so moet begelei dat hy/sy die probleem sal insien.
Die belangrikste rede waarom die dwelmafhanklike weier om sy probleem en die gevolge daarvan in te sien is geleë in die verdedigingsmeganismes wat deur die jare van verslawing opgebou is.
Indien enige ondersteuningsgroep daadwerklik hulp wil verleen sal met hierdie verdedigingsmeganismes rekening gehou moet word.

VERDEDIGINGSMEGANISMES
1. Ontkenning
“Ek het nie ‘n probleem met dwelms nie. Ek kan my dwelms hanteer.” Met hierdie opmerking probeer die dwelmafhanklike as’t ware die feit dat hy dwelms gebruik het sy lewe weer asook die gevolge wat hy/sy vanweë die gebruik daarvan ervaar!

2. Selektiewe terugroep
Die persoon onthou slegs die aangename herinneringe van sy/haar dwelmgebruik. Bv. “Dit was ‘n wonderlike partytjie. Almal het my laat voel dat omdat ek so lekker gerook was ek die siel van die partytjie was!” Die feit dat dieselfde persoon later in die aand amok gemaak het, of heeltemal “uitgepass” het, onthou hy gerieflikheidshalwe nie.

3. Onderdrukking
Die persoon onderdruk die gedeeltes tydens sy optrede onder die invloed van dwelms, waaroor hy/sy sleg voel of skaam oor is.

4. Regressie
Die persoon tree soos ‘n kind op om die aandag van sy/haar probleem af te trek deur bv. te skree, te huil of dikmond rond te loop, of om ‘n “scene” te maak! Mense is dan geneig om aan die betrokke optrede aandag te gee eerder as om die probleem aan te spreek.

5. Verkleining
Die persoon vereenvoudig sy/haar probleem en gee gewoonlik voor dat hy/sy veel minder gebruik het as wat werklik die geval is. So sal die persoon bv. Sê: “Ek het net 2 skywe getrek, ek het presies geweet wat rondom my gebeur het,” of: “Ek het my vrou net ‘n ligte klappie toegedien.”

INGRYPING DEUR MIDDEL VAN KONSTRUKTIEWE KONFRONTASIE
Om werklik ‘n afhanklike te kan help is dit nodig om die verdedigingsmeganismes af te breek. Hierdie proses staan bekend as kontruktiewe konfrontasie. Dit behels 3 fases.

FASE 1: VOORBEREIDING
Wanneer die familie of gesin vermoed, of bewyse het dat ‘n familielid dwelms gebruik, veroorsaak dit gewoonlik ‘n sterk gevoel van woede, angs en skuld.
Heel dikwels reageer die familie dan deur of die familielid te verwyt of deur heeltemal oor die probleem te swyg.
Beide hierdie soort optrede is afbrekend en lei in baie gevalle daartoe dat die gebruiker almeer op verdediging ingestel raak met die gevolg dat kommunikasie in baie gevalle heeltemal tot stilstand kom.
As deel van die voorbereiding is dit noodsaaklik dat daar eers met die familie gesels sal word sodat hulle hulle gevoelens onder beheer kan kry.
Wanneer met die gebruiker gepraat word, is dit van die uiterste belang dat op feite gekonsentreer sal word. Hierdie feite moet duidelik spesifiek en sover moontlik op eerstehandse inligting berus. Bv.

1. Dagga is in skoolsak gevind.
2. Jou skoolpunte het ‘n daling van 10% getoon.
3. Jy slaap saans uit die huis en jy word dan gevind in die geselskap van persone wat ons weet dwelms gebruik.
4. Ons ken nie die persone met wie jy deesdae vriende is nie.
Konfrontasie op grond van vae vermoedens sal nie werk nie, maar een keer die persoon in staat stel om sy verdedigingsmeganismes te gebruik.
‘n Leier vir die konfrontasieproses moet vooraf gekies word en die konfrontasie span bestaan gewoonlik uit:
• ‘n familielid (ouer, eggenote, broer na gelang van omstandighede)
• ‘n onderwyser (indien ‘n student betrokke is)
• ‘n geestelike leier
• ‘n geneesheer
• ‘n lid van ondersteuningsgroep
• ‘n werkgewer (na gelang van omstandighede)

As deel van die voorbereiding word daar gewoonlik besluit dat die persoon na gesprek verwys sal word na ‘n professionele persoon of dat toetse gedoen sal word om vas te stel of die persoon wel dwelms gebruik.
Die groep moet vooraf bymekaar kom om die verloop van die proses te bespreek.

Fase 2: Konfrontasie
Die konfrontasie moet gehou word in ‘n private plek waar onderhandelinge nie sal plaasvind nie. Die leier sal die proses begin deur te verduidelik dat elke lid van die groep teenwoordig die welsyn van die dwelmgebruiker op hul harte dra en vir hom/haar omgee.
As elkeen die geleentheid benut het om dit te doen, sal die dwelmgebruiker geleentheid kry om sy insette te lewer. Die feite word dan aan die dwelmgebruiker voorgelê. Die feite moet aangebied word op ‘n veroordelende wyse en die bekommernis wat die lede van die groep teenoor die dwelmgebruiker voel moet sterk beklemtoon word.
Indien die persoon probeer om die gang van die gesprek te verander moet die leier hom/haar daarop wys dat wanneer elke lid van die groep hul bydrae gelewer het, hy/sy geleentheid sal kry om daarop te antwoord.
Gewoonlik het die proses 2 resultate:
Die persoon mag erken dat dwelms ‘n houvas op sy lewe begin kry of gekry het, of die persoon mag alles ontken. As hy/sy erken, word die vooropgestelde plan naamlik om die persoon vir professionele hulp te verwys, gevolg.
Indien die persoon ontken dat hy/sy dwelms gebruik, moet die groepslede die persoon vra, om hulle vrese te besweer deur dan die nodige toetse vir dwelmgebruik te ondergaan.
Daar moet ook vooraf ooreengekom word dat as die toetse positief is, die persoon sal instem om ‘n professionele persoon te raadpleeg, natuurlik met die hulp en ondersteuning van lede van die groep.

FASE 3: OPVOLG
Die leier van die groep moet die verantwoordelikheid vir die uitvoer van die besluit aanvaar. Hy/sy moet ook die nodige terugvoering aan die ander lede van die groep gee.

ALGEMENE RIGLYNE VIR PERSONE WAT MET ‘N DWELMAFHANKLIKE SAAMLEEF:
1. Moenie die probleem as ‘n skande beskou nie. Genesing is moontlik. Onthou niemand begin met dwelms met die idee om verslaaf (afhanklik) te word nie.
2. Moenie neul of preek of verwyt nie. Verwyte veroorsaak ‘n muur tussen u en die persoon wat u graag wil help. Deur die persoon te beskuldig laat hom net meer skuldig en skaam voel en dit verhoog sy behoefte aan dwelms.
3. Waak teen ‘n “ek is beter as jy”-gesindheid. Dit veroorsaak dat die persoon nog meer onbevoegd en nutteloos voel.
4. Moenie die “as jy my liefhet” of “na alles wat ek vir jou gedoen het” -metode gebruik nie. Die persoon tree nie op omdat hy u nie liefhet nie, maar juis omdat hy in ‘n greep van dwelms vasgevang is wat baie keer sy optrede bepaal.
5. Moenie dreig of ultimatums stel as u nie van plan is om dit uit te voer nie.
6. Moenie, as u op ‘n voorraad dwelms afkom dit vernietig nie. Dit sal die persoon noop om uit te gaan en ander te gaan koop.
7. Moenie toelaat dat die verslaafde u oortuig om saam dwelms te gebruik nie. Sommige persone doen dit in die hoop dat dit sal help om die dwelminname te kontroleer.
8. Moenie die persoon teen die gevolge van sy dwelmgebruik beskerm nie. As hy/sy nie die gevolge hoef te hanteer nie, word aangeneem dat dwelmmisbruik in orde is.
9. Moenie uself blameer nie. Baie ouers vra hulle self af – wat het ek verkeerd gedoen?
10. Moenie jaloers voel op professionele hulp nie. Dwelmafhanklikheid is ‘n gespesialiseerde veld en gewone persone beskik baie keer nie oor die gespesialiseerde kennis nie. Gebruik die hulp wat beskikbaar is.
11. Moenie onmiddellik ‘n 100% verandering verwag nie. Daar sal tye wees van spanning en gemoedsverandering. Help die verslaafde oor die moeilike gedeeltes van sy verslawing.
12. Moenie die afhanklike in watte toedraai nie. Die belangrikste deel van sy herstel is om die werklikhede van die lewe sonder dwelms te aanvaar.

SOBERHEID EN ‘N DWELMVRYE LEWE IS SY/HAAR EIE VERANTWOORDELIKHEID!
Wat hy/sy van u verwag is, vertroue en geloof in hom en sy herstel, u liefde en u ondersteuning vir die nuwe pad wat hy probeer inslaan.

Oktobermaand se fondsinsamelingsprojek:

Gebraaide boereworsrolle (die lekkerste wors in die Suidelike Halfrond) met 'n lekker uiesmoor daarby is hierdie maand op die spyskaart vir die 25ste Oktober 2013 teen slegs R20 elk. Plaas jou bestellings by Amanda deur vir haar te bel by 082-497-8987 of epos te stuur by amanda.swart12@gmail.com
Al die bestellings moet asb voor of op die 22ste Oktober geplaas word. Ondersteun asb die fondsinsameling. Dit is alles vir 'n goeie doel!

Hoekom fondsinsamelingsprojekte?

Amanda en haar helpers, almal mense wat 'n passie het om hulle medemens in nood te help, is sedert vroeg hierdie jaar al besig om fondse in te samel.  Die hele idee is om die dienste van Die Rots tot die beskikking van almal in die Paarl en omgewing te maak en daarom moet dit baie bekostigbaar wees. Daar gaan met ander woorde gepoog word om die finansiële kostes wat vir behandeling betaal moet word, so laag as moontlik te hou. Wanneer Die Rots in volle werking is, sal fondse, met die bydraes wat deur die inwoners gelewer word, gegenereer word om in al die daaglikse behoeftes te voorsien. Inwoners sal betrek word by daaglikse take en op so 'n manier gaan die persoon in nood ook nie nutteloos voel nie wat weer gaan beteken dat sy of haar selfbeeld 'n hupstoot gaan kry.

Die Rots gaan Blog!

Welkom aan 'n ieder en 'n elk by Die Rots se blog! Maak asb 'n knoop in jou hare of knoop jou veters sodat jy kan onthou om gereeld op hierdie blog van Die Rots in te loer. Dit gaan 'n lewendige omgewing wees met baie stof tot nadenke. Nie net gaan die persoon wat aan dwelms verslaaf is, hier ondersteuning kry nie, maar elkeen van ons sal met iets hier kan wegstap! Die gesinslede en vriende van 'n verslaafde sal hier kan inloer om morele ondersteuning te kry en nuwe krag om die euwel van verslawing vierkantig in die oë te kyk! Versprei Die Rots se blog tussen jou vriende, familie én "vyande" (LOL), want julle is Die Rots se oë en voete! Al bereik ons net één persoon wat in die kloue van verslawing vasgevang is, beteken dit baie!

Kontak ons:

Amanda Swart (Founder)
Cell: 082-497-8987
Email: amanda.swart12@gmail.com
Facebook: Die Rots Paarl

Hoe Die Rots aan sy naam gekom het?

Toe Amanda op 'n naam vir haar rehabilitasie en ondersteuningsgroep moes besluit, het sy verskillende name in gedagte gehad. Sy het eers vasgehaak by "Geloof, Hoop & Liefde" maar omdat dit so 'n allerdaagse naam is, het sy uiteindelik op "Die Rots" besluit. Jesus is die Rots wat ewig staan en waarop ons ons lewens moet bou. As Hy ons Rots is, sal ons nooit wankel nie! Hy is ons Rots van genade, sagmoedigheid en barmhartigheid. Niemand van ons kan iets bou wat staande kan bly as Hy nie die fondasie is nie. En Amanda se hele idee met Die Rots is geskoei op Christus wat vir ons 'n Rots is. Net so moet Die Rots 'n baken in die lewe van die verslaafde, die gesinslede, ag almal wat betrokke is by die verslaafde persoon, wees. Slegs met God aan jou kant, sal jy in staat wees om alles wat op jou pad kom, te bowe te kom. Vra God om jou Rots te wees en die klip van verslawing uit jou pad te rol sodat jy kan toegang kry tot jou hemelse Vader!