Tentakels van Tik! (Uittreksel uit die boek "Oor mense & Hoop" van Rilette Meyer wat onderhoude gevoer het met mense wat baie ernstig gestruikel het.)
In 'n plek wat die atmosfeer van 'n outydse kafee het en waar jy melkskommel en wafels bestel, ontmoet ek Adolf. 'n Sestienjarige seun met die oë van 'n ou man. Saam met ons, maar tjoepstil, is sy sielkundige - Adolf is minderjarig. Dit is 'n verhaal oor die verwoesting van dwelms. Maar in hierdie geval is dit nie Adolf wat 'n stryd teen die euwel voer nie, dis sy ma. Uiters steurend is die feit dat sy deel uitmaak van 'n splinternuwe statistiek: 'n nuwe vlaag van Tik-verslawing wat onder wit Afrikaanse, middelklasvroue kop uitsteek. Veral in die Kaap, aldus Suid-Afrika se Tik-hoofstad.
Adolf en sy ma:
"My ma is in haar vroeë veertigs," begin Adolf en dis duidelik dat hy toegelaat moet word om sy storie by 'n plek te gaan haal. Asof hy my gedagtes lees, verduidelik hy: "Ek noem dit juis, want die kenners met wie ek gepraat het, het dit uitgewys as 'n "gevaarlike" ouderdom vir vroue." Die beduidenis van 'n glimlag flits oor sy gesig; 'n aanduiding dat daar êrens, diep binne, 'n humorsin skuil. "Dis juis tydens dié fase wat die grootste aantal vroue blykbaar die koers van hul lewe bevraagteken," hervat hy. "Hulle voel ook die verloop van die tyd aan, hulle glo dat hul skoonheid taan, en so aan." Hy waai die laaste woorde verleë weg. "Jy is 'n vrou, so jy weet al die dinge." Effe skaam dat hy hom op die terrein begewe het. Adolf se ma is tans in 'n rehabilitasiesentrum, vir die derde keer hierdie jaar. "Ek is al moeg gewonder of dinge ooit weer gaan regkom, maar hierdie keer moet dit werk want sy't probeer selfmoord pleeg en as ek haar nie betyds gekry het nie, was ons nou langs haar graf." Die woorde tuimel oor sy lippe, dit struikel nie in die eerlikheid daarvan nie. Daar is nie meer plek vir skanse nie. Dit is wat dit is. Waar het die afdraande pad begin? "My ma is 'n mooi vrou. Dis eers nou, met al die drama, wat ek met ander insigte na ons omgewing en leefstyl kyk. Tot 'n jaar gelede het ek geglo dis great, dis hoe dit moet wees." Die "leefstyl" waarna Adolf met opsigtelike veragting verwys, is die hoër as gemiddelde middelklasleefstyl. "Hier worry almal oor wat die bure gaan dink. Jy ry die regte kar, jou huis weerspieël 'n sekere image en die kinders dra etikette waarvan die prys net so belangrik as die styl is. Alles oppervlakkige twak." As die oudste van vier kinders was Adolf bewus daarvan dat sy ma na sy jongste sussie, 'n effense laatlam, se geboorte gesukkel het om haar figuur terug te kry. "Al kon mens nooit fout vind met haar voorkoms nie, was sy konstant ongelukkig. Sy't elke denkbare dieet probeer want sy wou altyd maerder wees as wat sy was." Hy glo die rede vir haar swak selfbeeld is nie net in haarself gesetel nie. "My pa beklee 'n belangrike pos in 'n reuse onderneming. Hy geniet aansien en dit vereis 'n huishouding en 'n vrou wat daarby pas. 'n Trophy wife. Dis vir hom belangrik en hy is 'n perfeksionis. My ma se vriendinne is ook so ingestel." Adolf dui aan dat ons nou by die kruis kom wat sy ma se skouers geknak het. "Een aand was hulle op pad na 'n partytjie. My ma was die hele dag senuweeagtig en het vir my gesê sy weet nie wat sy gaan dra nie, want niks pas haar behoorlik nie." Toe sy uiteindelik haar verskyning maak, het Adolf se pa nie komplimente uitgedeel nie - inteendeel. "Ek kon als hoor uit die TV-kamer. Hy't nogal gesnou dat haar beste vriendin haarself nie so laat gaan het nie. Toe my ma ons kom groet, was daar trane in haar oë. Ek't vir haar gesê sy lyk mooi, maar dit hou nie water as jou kind dit vir jou sê nie - sy wou hê haar man moet so dink." Kort na die episode was daar 'n merkbare verandering in Adolf se ma. "Dit was asof sy uit haar dop gekruip het. Sy't weer begin lag en grappies maak. Ons het opgemerk dat sy gewig verloor en skielik was daar weer harmonie in die huis. Sy't stunning gelyk en my pa het haar toegegooi met komplimente en geskenke." Die vrede sou egter van korte duur wees. "As ek nou terugkyk, was die eerste tekens erge senuweeagtigheid. Ons het haar nogal geterg daaroor dat sy so jumpy is. Mettertyd het my ma ophou bad en na haarself kyk. Sy't toenemend vergeet om my sussies by die skool op te laai. Haar gedrag was vreemd." Adolf was die een wat die kloutjie by die oor gebring het. "Een van my vriende op skool was aan Tik verslaaf, en dit het eendag, heel skielik, net als gekliek. " Omdat dit so ongehoord is, was hy vas oortuig dat hy verkeerd is. "Ek kon dit egter nie ignoreer nie, al wou ek dit nie glo nie, maar ek kon aan geen ander rede dink om die drastiese gedragsverandering te verklaar nie." Na 'n hopeloos onsuksesvolle gesprek met sy pa, het Adolf sy ma gekonfronteer. "Sy't aanvanklik als ontken, maar uiteindelik in trane uitgebars en erken dat sy Tik gebruik. Al was dit ontsettend erg om dit te hoor was ek tot 'n mate verlig, want die kat was uit die sak." Omdat sy pa botweg geweier het om hom te glo, het Adolf op eie stoom na hul huisdokter toe gegaan. "Dit was nie maklik om hom te oortuig om na ons huis toe te kom nie, maar daar was geen manier wat ek my ma daar kon kry nie." Hul huisdokter het Adolf se pa onomwonde ingelig dat dit ernstig is, en dat sy vrou onmiddellik vir rehabilitasie moes gaan. Vol hoop het Adolf op sy ma se tuiskoms gewag, vas oortuig dat alles weer na normaal sou terugkeer en dat die nagmerrie verby is. "Toe nie. Die eerste week of wat was sy uitgeput, maar sy was my ma. En toe slaan die monster weer toe." Dié keer was die verval vinniger en erger - maar sy ma was ook meer geslepe in haar pogings om dit te verdoesel. "Ek erken daar was by my, en dus ons gesin, 'n amper halsstarrige weiering om te erken dat die probleem terug was." Hy sug en dis 'n sug wat dui op te veel verantwoordelikheid op die jong skouers. "En dan tref die waarheid jou. Dié keer harder, meer sekuur. Jy steier onder die kennis en jy wankel in die wete van wat voorlê. "Om haar deur die huis te sien dwaal," onthou jy onbewaak, "was soos om haar spook te sien." Die patroon is herhaa. Dokter, rehabilitasie, tuiskoms, hoop. Vals hoop. "Daar is sonder twyfel inherent iets fout met die basiese rehabprogram. Ek hoor van te veel mense wat net weer terugval. Ek gaan dit my lewenstaak maak om daaraan te werk." So jonk, so vol drif en met ywer. En nou? "Dis nie net sy wat veranderings moet maak nie, ons moet almal. Ook my pa. As hy kan, want tans glo hy nie hy's deel van die probleem nie." Adolf is kwaad vir die lewe, kwaad vir sy pa, kwaad vir 'n wêreld wat onmoontlik verskuilde wippe stel waarin weerloses trap. En Adolf is kwaad vir God. "Die dominee sê nou die dag vir my ek beter my houding verander anders gaan ek in die hel beland. Wie dink hy is hy? Dit waardeur ons nou gaan, hier, vandag, dit is die hel. Hy moenie met sy skynheilige dwepery vir my kom staan en preek nie. Ek is die een wat my ma op haar knieë sien, hoor hoe sy God se Naam roep en om hulp en verlossing smeek. Hy kom hier aan met sy streng gesit en swaai sy wysvinger onder haar neus rond oor sondeval - maar nie te lank terug nie het hy hom elke naweek dik gevreet aan ons tafel en ons duur wyn uitgdrink. Toe was als hunky-flippen-fory. Toe was ons voorbeelde van ware Christene in die gemeenskap? Asseblief." Anders as baie van sy portuurgroep, dra Adolf nie 'n kiekie van 'n meisie in sy beursie nie. In die beursieflap is 'n foto van sy ma soos sy nou lyk. Skokkend sleg. Toutjieshare wat niks van die eertydse glansende blondheid verklap nie, hol wange, purper kringe reg rondom haar lewelose oë wat eens op 'n tyd helder blou was, gebarste lippe met onooglike sere in die mondhoeke. Hy kyk lank na die foto voor hy dit wegbêre. Hoekom dié foto? Hy sug en vee oor sy hare voor hy antwoord. "Want ek wil nie vergeet nie. En as een van my vriende nog dink dat hulle met drugs wil eksperimenteer, dan hoef ek niks te sê nie - ek hoef net te wys." Hy kyk sekuur in my oë. "Dis helse effektief. Glo my." Ns. Tik, oftewel metamfetamien, is alombekend vir die destruktiewe effek wat dit op die gebruiker het. Tik laat jou gewig verloor want dit onderdruk jou aptyt. Aanvanklik gee dit jou hope energie en selfvertroue. In die beginfase ervaar jy ekstatiese geluk en dit voel asof jy berge kan versit. Mettertyd begin die gebruiker egter hallusineer. Dit tas die brein, sentrale senustelsel en uiteindelik die volledige liggaamsfunksie aan. Die gebruiker ervaar dan 'n ontsettende en oorweldigende swartgalligheid. Hulle hunker n adie verruklike gevoel wat vantevore daar was. Dus wend hulle hul weer en weer en weer tot Tik in die hoop dat die euforie sal terugkeer. 'n Paar weke na ons onderhoud het Adolf laat weet dat sy ma na nog 'n selfmoordpoging gesterf het. "Dis 'n tragedie wat ons lewe vir altyd en ek weet nie of die seer ooit sal weggaan nie. Ek weet nie wat ons sonder haar gaan doen nie. Sy was ons lig na liefde. Ek weet nie of daar vrede of geluk is waar sy nou is nie, maar ek hoop so. Sy verdien dit. Ek wil nou, meer as ooit, die storie gepubliseer hê. Waarsku mense teen Tik. Asseblief. Vir almal wat hierdie stryd stry: Al het ek geen raad nie, moenie ophou probeer nie. Baklei daarteen."
Adolf se pa:
Dit was nie maklik om 'n afspraak met Adolf senior te kry nie. Uiteindelik het die sielkundige hom oorreed en ons ontmoet in die spreekkamers. "Ek is baie ongelukkig daaroor dat Adolf met jou gepraat het," val hy uit die staanspoor aan. "Dit is ons privaat sake en dit het niks met enigiemand anders te doen nie." Hy bly nukkerig toe ek hom daarop wys dat Adolf anoniem wou bly (om sy ma en sussies te beskerm) maar dat hy dringend bewuswording vir 'n groeiende probleem wou kweek. "Ek weet hy glo dis beter om die sluier te lig, maar my generasie hanteer probleme op 'n ander manier. Ons los ons probleme agter geslote deure op en maak nie 'n spektable van onsself nie." Met 'n pandemie wat reeds soveel mense se lewe en gesinne verwoes, is dit mos juis die eerbare ding om te doen deur dit aan die groot klok te hang? "Ek het nog altyd 'n kleintjie dood aan swakheid. 'n Mens se karakter word gebou op hoe jy moeilike situasies hanteer, en verslawing dui op 'n inherente swakheid," kap hy terug terwyl hy 'n sigaret aansteek. "Moet net asseblief nie die ou redenasie ophaal dat rook ook 'n verslawing is nie, want dis anders," reageer hy op my ironiese gesigsuitdrukking. Is hy positief dat hulle as gesin hierdie veldslag gaan oorleef? "Natuurlik," antwoord hy bykans te vinnig. "Ons is wenners en deur saam te staan en saam te werk as 'n span kan ons enigiets die hoof bied." Is hy dus trots op die baie volwasse wyse waarop sy seun hierdie moeilike situasie hanteer? Hy frons vir 'n oomlik, asof die omvang van die stelling hom onkant betrap. "Ek het nog nie so daaraan gedink nie. Maar ek sal toegee dat Adolf uiteindelik 'n man begin word."
No comments:
Post a Comment