Wednesday, 16 October 2013

Hoe help ek 'n dwelmafhanklike en sy/haar geaffekteerdes?


VOORKOMING IS BETER AS GENESING
Dwelmverslawing is soos kanker – Genesing daarvan kan altyd as ‘n wonderwerk beskou word. Dit is baie beter om afhanklikheid te voorkom aangesien die sielkundige genesing van afhanklikheid van talle faktore afhang wat die kanse op genesing belemmer.
‘n Persoon is slegs in staat om te kan besluit of hy/sy met dwelms gaan eksperimenteer as hy/sy bewus is van die implikasies (gevolge) van die besluit. Daarom is dit van die grootste belang dat die ondersteuningsgroep sterk die klem op voorkoming sal laat val.

Dit sluit die volgende in:
1. Die oordra van feitlike inligting oor dwelms. Kennis is mag!
2. Die verlening van hulp aan persone wat dit moeilik vind om met ander te kommunikeer. Skakel hulle by ondersteuningsgroepe in en verskaf ‘n aangename atmosfeer om kommunikasievaardighede te verbeter.
3. Die uitbou van besluitnemingsvaardighede kan binne die groepsverband ontwikkel word.
4. Werk saam aan ‘n stewige en gesonde waardestelsel.
5. Help mekaar binne die groep om ‘n gesonde selfbeeld te ontwikkel.
6. Ondersteun mekaar in die opbou van ‘n sterk innerlike selfdissipline.

INGRYPING IN DIE LEWE VAN ‘N DWELMAFHANKLIKE
Een van die belangrikste feite wat die persoon wat die dwelmafhanklike in homself van moet vergewis is dat die dwelmafhanklike gewoonlik die laaste persoon is wat sy probleem wil erken.
Daarom is dit noodsaaklik dat die helper die dwelmafhanklike so moet begelei dat hy/sy die probleem sal insien.
Die belangrikste rede waarom die dwelmafhanklike weier om sy probleem en die gevolge daarvan in te sien is geleë in die verdedigingsmeganismes wat deur die jare van verslawing opgebou is.
Indien enige ondersteuningsgroep daadwerklik hulp wil verleen sal met hierdie verdedigingsmeganismes rekening gehou moet word.

VERDEDIGINGSMEGANISMES
1. Ontkenning
“Ek het nie ‘n probleem met dwelms nie. Ek kan my dwelms hanteer.” Met hierdie opmerking probeer die dwelmafhanklike as’t ware die feit dat hy dwelms gebruik het sy lewe weer asook die gevolge wat hy/sy vanweë die gebruik daarvan ervaar!

2. Selektiewe terugroep
Die persoon onthou slegs die aangename herinneringe van sy/haar dwelmgebruik. Bv. “Dit was ‘n wonderlike partytjie. Almal het my laat voel dat omdat ek so lekker gerook was ek die siel van die partytjie was!” Die feit dat dieselfde persoon later in die aand amok gemaak het, of heeltemal “uitgepass” het, onthou hy gerieflikheidshalwe nie.

3. Onderdrukking
Die persoon onderdruk die gedeeltes tydens sy optrede onder die invloed van dwelms, waaroor hy/sy sleg voel of skaam oor is.

4. Regressie
Die persoon tree soos ‘n kind op om die aandag van sy/haar probleem af te trek deur bv. te skree, te huil of dikmond rond te loop, of om ‘n “scene” te maak! Mense is dan geneig om aan die betrokke optrede aandag te gee eerder as om die probleem aan te spreek.

5. Verkleining
Die persoon vereenvoudig sy/haar probleem en gee gewoonlik voor dat hy/sy veel minder gebruik het as wat werklik die geval is. So sal die persoon bv. Sê: “Ek het net 2 skywe getrek, ek het presies geweet wat rondom my gebeur het,” of: “Ek het my vrou net ‘n ligte klappie toegedien.”

INGRYPING DEUR MIDDEL VAN KONSTRUKTIEWE KONFRONTASIE
Om werklik ‘n afhanklike te kan help is dit nodig om die verdedigingsmeganismes af te breek. Hierdie proses staan bekend as kontruktiewe konfrontasie. Dit behels 3 fases.

FASE 1: VOORBEREIDING
Wanneer die familie of gesin vermoed, of bewyse het dat ‘n familielid dwelms gebruik, veroorsaak dit gewoonlik ‘n sterk gevoel van woede, angs en skuld.
Heel dikwels reageer die familie dan deur of die familielid te verwyt of deur heeltemal oor die probleem te swyg.
Beide hierdie soort optrede is afbrekend en lei in baie gevalle daartoe dat die gebruiker almeer op verdediging ingestel raak met die gevolg dat kommunikasie in baie gevalle heeltemal tot stilstand kom.
As deel van die voorbereiding is dit noodsaaklik dat daar eers met die familie gesels sal word sodat hulle hulle gevoelens onder beheer kan kry.
Wanneer met die gebruiker gepraat word, is dit van die uiterste belang dat op feite gekonsentreer sal word. Hierdie feite moet duidelik spesifiek en sover moontlik op eerstehandse inligting berus. Bv.

1. Dagga is in skoolsak gevind.
2. Jou skoolpunte het ‘n daling van 10% getoon.
3. Jy slaap saans uit die huis en jy word dan gevind in die geselskap van persone wat ons weet dwelms gebruik.
4. Ons ken nie die persone met wie jy deesdae vriende is nie.
Konfrontasie op grond van vae vermoedens sal nie werk nie, maar een keer die persoon in staat stel om sy verdedigingsmeganismes te gebruik.
‘n Leier vir die konfrontasieproses moet vooraf gekies word en die konfrontasie span bestaan gewoonlik uit:
• ‘n familielid (ouer, eggenote, broer na gelang van omstandighede)
• ‘n onderwyser (indien ‘n student betrokke is)
• ‘n geestelike leier
• ‘n geneesheer
• ‘n lid van ondersteuningsgroep
• ‘n werkgewer (na gelang van omstandighede)

As deel van die voorbereiding word daar gewoonlik besluit dat die persoon na gesprek verwys sal word na ‘n professionele persoon of dat toetse gedoen sal word om vas te stel of die persoon wel dwelms gebruik.
Die groep moet vooraf bymekaar kom om die verloop van die proses te bespreek.

Fase 2: Konfrontasie
Die konfrontasie moet gehou word in ‘n private plek waar onderhandelinge nie sal plaasvind nie. Die leier sal die proses begin deur te verduidelik dat elke lid van die groep teenwoordig die welsyn van die dwelmgebruiker op hul harte dra en vir hom/haar omgee.
As elkeen die geleentheid benut het om dit te doen, sal die dwelmgebruiker geleentheid kry om sy insette te lewer. Die feite word dan aan die dwelmgebruiker voorgelê. Die feite moet aangebied word op ‘n veroordelende wyse en die bekommernis wat die lede van die groep teenoor die dwelmgebruiker voel moet sterk beklemtoon word.
Indien die persoon probeer om die gang van die gesprek te verander moet die leier hom/haar daarop wys dat wanneer elke lid van die groep hul bydrae gelewer het, hy/sy geleentheid sal kry om daarop te antwoord.
Gewoonlik het die proses 2 resultate:
Die persoon mag erken dat dwelms ‘n houvas op sy lewe begin kry of gekry het, of die persoon mag alles ontken. As hy/sy erken, word die vooropgestelde plan naamlik om die persoon vir professionele hulp te verwys, gevolg.
Indien die persoon ontken dat hy/sy dwelms gebruik, moet die groepslede die persoon vra, om hulle vrese te besweer deur dan die nodige toetse vir dwelmgebruik te ondergaan.
Daar moet ook vooraf ooreengekom word dat as die toetse positief is, die persoon sal instem om ‘n professionele persoon te raadpleeg, natuurlik met die hulp en ondersteuning van lede van die groep.

FASE 3: OPVOLG
Die leier van die groep moet die verantwoordelikheid vir die uitvoer van die besluit aanvaar. Hy/sy moet ook die nodige terugvoering aan die ander lede van die groep gee.

ALGEMENE RIGLYNE VIR PERSONE WAT MET ‘N DWELMAFHANKLIKE SAAMLEEF:
1. Moenie die probleem as ‘n skande beskou nie. Genesing is moontlik. Onthou niemand begin met dwelms met die idee om verslaaf (afhanklik) te word nie.
2. Moenie neul of preek of verwyt nie. Verwyte veroorsaak ‘n muur tussen u en die persoon wat u graag wil help. Deur die persoon te beskuldig laat hom net meer skuldig en skaam voel en dit verhoog sy behoefte aan dwelms.
3. Waak teen ‘n “ek is beter as jy”-gesindheid. Dit veroorsaak dat die persoon nog meer onbevoegd en nutteloos voel.
4. Moenie die “as jy my liefhet” of “na alles wat ek vir jou gedoen het” -metode gebruik nie. Die persoon tree nie op omdat hy u nie liefhet nie, maar juis omdat hy in ‘n greep van dwelms vasgevang is wat baie keer sy optrede bepaal.
5. Moenie dreig of ultimatums stel as u nie van plan is om dit uit te voer nie.
6. Moenie, as u op ‘n voorraad dwelms afkom dit vernietig nie. Dit sal die persoon noop om uit te gaan en ander te gaan koop.
7. Moenie toelaat dat die verslaafde u oortuig om saam dwelms te gebruik nie. Sommige persone doen dit in die hoop dat dit sal help om die dwelminname te kontroleer.
8. Moenie die persoon teen die gevolge van sy dwelmgebruik beskerm nie. As hy/sy nie die gevolge hoef te hanteer nie, word aangeneem dat dwelmmisbruik in orde is.
9. Moenie uself blameer nie. Baie ouers vra hulle self af – wat het ek verkeerd gedoen?
10. Moenie jaloers voel op professionele hulp nie. Dwelmafhanklikheid is ‘n gespesialiseerde veld en gewone persone beskik baie keer nie oor die gespesialiseerde kennis nie. Gebruik die hulp wat beskikbaar is.
11. Moenie onmiddellik ‘n 100% verandering verwag nie. Daar sal tye wees van spanning en gemoedsverandering. Help die verslaafde oor die moeilike gedeeltes van sy verslawing.
12. Moenie die afhanklike in watte toedraai nie. Die belangrikste deel van sy herstel is om die werklikhede van die lewe sonder dwelms te aanvaar.

SOBERHEID EN ‘N DWELMVRYE LEWE IS SY/HAAR EIE VERANTWOORDELIKHEID!
Wat hy/sy van u verwag is, vertroue en geloof in hom en sy herstel, u liefde en u ondersteuning vir die nuwe pad wat hy probeer inslaan.

No comments:

Post a Comment